Tydens die eerste skoolnaweek het die graad 7’s saam met Meneer Bekker en Juffrou Johannes ‘n leiersnaweek te Wandersheim geniet.
Intensiewe inligtingssessies, waar hulle hulself baie beter leer ken het en meer oor hul eie leierskapstyle ervaar het, is afgewissel met heerlike afkoelsessies in die swembad en spanbouaktiwiteite in die natuur.
Meneer du Plessis het Vrydagaand vir aandete gesorg en ook ‘n interessante werkswinkel ten opsigte van goeie leierskap aangebied.
Na min slaap en laatnag lagsessies, het die Saterdagoggend ook met diep gesprekke, ‘n oordenking en ‘n laaste werkswinkel begin. Die leerders het self heerlike ontbyt vir almal gemaak en ‘n reflektiewe samevatting het die naweek beeindig.
Wandersheim was weereens ‘n ideale plek om te leer en te ontspan en die beeldskone natuur te geniet. Ons sien uit om die graad 7’s hierdie as leiers in aksie te sien.
Angelika Johannes