Die graad 7 dogters het op Vrydag 16 Maart met Mnr. Schmidt en Mev. Niebuhr direk na skool Wandersheim toe vertrek vir hul leiersnaweek. Na middagete het die dogters ‘n spanbou speletjie gespeel waarna Mnr. Schmidt ‘n sessie oor persoonlikheidstipes gehou het, sodat die leiers verstaan hoekom mens verskillende mense op verskillende maniere moet benader.
Die dogters het toe kans gekry om ‘n kaartspeletjie te speel of bietjie te rus – omdat kinders is soos wat hulle is, het die dogters besluit om in die koue te gaan swem!
Dit was nie lank nie toe wil hulle in Mev. Niebuhr se bad swem om weer op te warm voor die volgende sessie oor verskillende leierskapstyle. Daar is nog ‘n paar speletjies met die dogters gespeel wat beslis gehelp het om hulle leiereienskappe uit te lig. Vir aandete het ons hamburgers gebraai en dan het die graad 7‘s ‘n fliek gekyk met ‘n heerlike koppie warm sjokolade om hul op te warm.
Saterdagoggend het ons na ‘n koppie koffie en beskuit ‘n laaste sessie gehou oor eienskappe van leiers. Tydens hierdie sessie moes die dogters dieper in hulself inkyk om vas te stel of hulle natuurlike leiers is of nie.
Alhoewel hulle huiwerig was om die vraelyste te beantwoord, het hulle dit steeds geniet om te besef watter eienskappe hul in hulself kon raaksien. Terwyl Mev. Niebuhr met die dogters besig was, het Mnr. Schmidt ‘n heerlike ontbyt voorberei. Veels te vinnig het die tyd aangebreek om huiswaarts te keer. So tussen die reën deur het die dogters baie pret gehad en nogtans baie geleer. Ons hoop om deur die jaar nog geleenthede te kry om verdere leier-skapsontwikkeling met ons graad 7 dogters te kan doen.
Erika Niebuhr