Tydens die tweede skoolnaweek het die graad 7’s saam met Meneer Bekker en Juffrou Johannes op ‘n leiersnaweek na Wandersheim gegaan. Na ‘n lekker afkoelsessie in die swembad, het ons ‘n intensiewe inligtingssessie gehad, waar ons onsself baie beter leer ken het en meer oor ons eie persoonlikhede ervaar het.
Ons het dit afgewissel met ‘n heerlike swemsessie in die rivier en verskillende spanbou-aktiwiteite. Die staproete tot by die rivier en terug het gesorg dat baie stories uitgeruil kon word.
Vrydagaand het ons lekker hamburgers vir aandete geëet en ook ‘n interessante werkswinkel ten opsigte van goeie leierskap en verskillende style van leierskap meegemaak. Na min slaap en laatnag lag- en danssessies het die Saterdagoggend ook met ‘n oordenking en ‘n laaste werkswinkel begin. Ons het baie oor ons eie sterkpunte en swakpunte nagedink en oorweeg, waar ons onsself tydens die loop van hierdie jaar kan verbeter.
Daarna het ons heerlike ontbyt vir almal gemaak en moes alles vinnig skoongemaak en ingepak word. Wandersheim was weereens ‘n ideale plek om te leer en te ontspan en die beeldskone natuur te geniet. Ons sien uit na ‘n wonderlike graad-7-jaar vir hierdie leerlinge!