Schule Lüneburg Skool - Leiersnaweek 2019

“Graad 7 is díe jaar om na uittesien as ‘n mens in die laerskool is. Dan is ‘n mens uiteindelik die oudste en mens kan so te sê doen wat jy wil.“ – So klink heelwaarskynlik die gedagtegang van enige amper-13-jarige. Máár…

Dan kom die leiersnaweek en presies die teenoorgestelde word jou wysgemaak. Jy moet alles presies volgens reëls doen, jy moet ‘n voorbeeld wees, jy is nog bloedjonk en begin eers die leer van leierskap klim. Alle oë is op jou gerig!

Dit was waarskynlik nie anders gewees vir ons huidige Graad 7’s nie. Opgewonde, ‘n klein bietjie astrant en beterweterig het hulle die busrit Wandersheim toe aangepak. Die naweek het sy loop geneem en sonder twyfel het die 6 leerders goeie lesse geleer. Verskillende tema’s is deur Mnr. Schmidt en Mej. Johannes met hulle behandel en hulle het self aan onderskeie spanbou en individuele aktiwiteite deelgeneem.

Aan die einde van die naweek was die atmosfeer anders. Hierdie leerders het introspeksie gedoen en bewus geword van die eienskappe wat ‘n goeie leier moet besit. Hulle het ‘n ander houding teenoor hul laaste laerskooljaar en selfs teenoor mekaar ingeneem. Hulle het die leerskool suksesvol voltooi.

Dit was ‘n naweek van pret en plesier, maar ook van ontdek, werk, dink en beplan. Ons bedank almal wat ‘n bydrae gelewer het en weet dat julle almal tot die sukses bygedra het. Dit sal ‘n goeie laaste jaar vir die Graad 7’s word!

Angelika Johannes