Schule Lüneburg Skool - Leiersnaweek

Graad 7 is die skooljaar waarna die meeste leerders al van Graad 1 af uitsien. Dit kom blykbaar met die mees oënskynlike voordele: Jy is die oudste en het meer regte as die jongeres.

Jy kry eerste kos in die eetsaal. Jy mag raas as die ander kinders lawaai. Jy kan besluit of iemand oortree het of nie. Jy is amper klaar met die laerskool en die opwinding van die hoërskool is baie groot.

MÁÁR! (En dit is ‘n maar met hoofletters!) Met enige voordele en regte, kom ook die nie altyd so geliefde pligte en verantwoordelikhede: Jy moet te alle tye voorbeeldig optree – almal kyk op na jou. Jy moet die reëls en regulasies van die skool toepas en kyk dat al die ander dit ook doen. Jy moet ferm, maar met liefde optree. Die onderwysers verwag goeie punte van jou, omdat die hoërskool nie meer individuele aandag aan jou gee nie.

Dit is nie net maanskyn en rose om die oudstes in die skool te wees nie. En presies dit het vanjaar se Graad 7-groep tydens die jaarlikse leiersnaweek te Wandersheim geleer. Saam met Mnr. Schmidt, Me. Johannes en Mnr. Bekker het die leerlinge op ‘n leierskap-ontdekkingstog gegaan. Hulle het oor verskillende leierskapstyle geleer. Hulle het hulself deur middel van verskillende terugvoermeganismes leer ken. Hulle het hul eie sterk- en swakpunte ontdek en ervaar hoe hulle daaraan kan werk. Hulle het goeie leierseienskappe ontleed en introspeksie gedoen.

Dit was ‘n uitdagende en tog heerlike naweek. Tussen deur die erns, was daar tyd vir hardop lag en uitgelate speel. Daar was tyd vir swem en lees en gesels. Die kos was lekker en die uitsig oor die berge en die rivier uitstekend!

Ons hou julle dop, liewe Graad 7-leerders, julle het baie geleer en ons sien uit om julle as leiers van Schule Lüneburg te beleef!

– Angelika Johannes
Comments are closed.