Schule Luneburg 138 Schule Lüneburg Skool

Opgewonde en vol energie het ons 32 graad 5 tot 7-leerders Maandagoggend, 22 April, by die skool gearriveer. Koffers was gepak, padkos gereed om aan te peusel, laaste foto‘s geneem voordat ons vertrek.… en uiteindelik was ons oppad na die Drakensberge.

‘n Besoek aan Talana museum in Dundee het die geskiedenis-gedeelte van die toer aangevul. Ongelooflike mooi oudhede kon besigtig word – van mynvoertuie tot glaswerk en selfs ou winkels met die tipiese inhoud soos wat hulle destyds gelyk het.

Met ons aankoms by die ATKV Drakensville oord is ons in ons huise verdeel en kon ons vining uitpak voordat ons dam toe gestap het om te foefie-slide, waarna ons geswem het en by die waterwurm (“supertube”) afgegly het. ‘Stalk the lantern’ was die aand-aktiwiteit, wat ons tot slaapenstyd besig gehou het.

Dinsdag is daar ‘abseiling’ gedoen en na middagete het ons ‘n kaasplaas besoek waar ons van die kaasmaak-proses geleer het en in groepe, ons eie kaasbord moes opmaak, voordat ons gesmul het aan kaas en peuselhappies. Ons aandvermaak het uit kampkonserte met afrika-dromme bestaan – kreatiwiteit en opvoerings uit die boonste rakke!

Ons bestemming vir Woensdag was die sentrale Drakensberg. Ons het ‘n besoek aan Falcon Ridge birds of prey rehabilitasie sentrum afgelê waar ons demonstrasies met valke, uile, aasvoëls en arende geniet het – die vertoning is werklik ‘n besondere ervaring. Ons het by ‘n hele paar winkels in die omgewing stilgehou, hier en daar iets gekoop, maar hoofsaaklik net met ons oë gekoop. Laaste op ons agenda was ‘n konsert van die Drakensberg seunskoor. Gesange en liedjies van Mozart en Bach tot Mango Groove en Karen Zoid en selfs Nkosi Sikilela het ons bekoor! Met hoendervleis en die klank van die seuns se stemme in ons ore het ons teruggekeer vir ons laaste aand by Drakensville.

Die pad huis toe, Donderdag, was rustig. Maandag se opgewondenheid het in goeie herinneringe verwandel. Stories en ervarings is oor en weer gedeel met klasmaats. Uitgeput het sommige leerders hul oë vir kort rukkies gesluit om te rus.

Ons kyk dankbaar terug op ‘n fantastiese toer – ‘n voorreg om als te kan beleef wat ons beleef het.