Op Maandag, 23 April, het die Graad 5 – 7 leerders na Drakensville vertrek vir hul jaarlikse landsdienstoer. Op pad soontoe het ons by die Talana Museum in Dundee ‘n besoek afgelê waar ons baie oor díe ou myndorpie se geskiedenis geleer het.
Ons het eers ‘n toer deur die museum gemaak waar ons glaswerk, kralewerk, kledingsstukke en selfs ‘n “mensgrootte” mynmodel besigtig het en daarna het ons al die geboue buite die museum besigtig. Nadat ons ons piekniek-middagete geniet het, het ons weer in die pad geval om by ons finale bestemming uit te kom.
By aankoms in Drakensville, het ons ons toerleier, Danie, ontmoet wat ons in huisies verdeel het wat vir die res van die toer ons tuiste sou wees. Die eerste aktiwiteit wat ons met Danie onderneem het was die bou van ‘n vlot. Die landsdiensmaats is in twee groepe verdeel wat elk ‘n vlot moes bou wat die hele groep leerders bo die water sou hou. Alle toerusting is aan die leerders verskaf en toe moes die konstruksie begin. Albei groepe het hul goed van hul taak gekwyt en suksesvol die nodige afstand oor die dam geroei. ‘n Probleemoplossingshinder-nisbaan was volgende op die agenda. Hier het ons leerders ongelooflik goed saamgewerk en sommer baie vinnig die nodige take voltooi. Danie het vertel dat sommige hoërskoolgroepe tot 3 ure aan hierdie take spandeer, waar ons leerders binne 30 minute alles geslaag het – welgedaan julle!
Na ‘n kansie om in die warm swembad te baljaar was ons maats rasend honger en is ‘n heerlike aandete met roomys as nagereg benut. Die aandprogram het ‘n sterrekyksessie behels waar die leerders ook die geleentheid gekry het om deur Danie se splinternuwe teleskoop die sterre te besigtig. Voordat ons gaan slaap het, het ons weer in die warm swembaddens geswem.
Dinsdagoggend het ons na ‘n heerlike ontbyt ‘n 7m abseil gedoen. Die uitdaging was vir sommige leerders groter as vir ander, maar elkeen wat dit gewaag het, inkluis die onderwysers, het dit baie geniet. Volgende op die agenda was ’n foefie-glybaan oor die dam. Almal het hieraan deelgeneem en dit terdeë geniet. Na middagete en ‘n ruskansie, het die leerders en mnr. Schmidt hulself moeg baljaar op die waterglybaan, voordat die leerders in twee groepe ‘n hindernisbaan voltooi het. Voor aandete was daar weer ‘n kans om te gaan swem en na ete het die leerders ‘n lantern bekruip – “Stalk the lantern”.
Woensdagoggend moes ons direk na ontbyt vertrek na die sentrale Drakensberge, waar ons die hele dag spandeer het. Eerste op die program was ‘n besoek aan die Falcon Ridge Birds of Prey sentrum. Hier het ons verskillende voëls besigtig – ‘n paar in hul hokke, asook party wat opgelei is om voor die besoekers “op te tree” – van ‘n uil wat doodstil oor ons koppe gevlieg het na ‘n witkoparend wat glo hy is ‘n mens, omdat hy met die hand groot gemaak is. Na die briljante vertoning van die roofvoëls, het ons ‘n besoek aan die Rocky Ridge reptielpark afgelê. Die leerders kon hier hul vrees vir spinnekoppe, slange en ander reptiele oorkom deur menigte van hierdie diere vas te hou en oor hulle te laat klouter. Sommige leerders (en al die onderwysers) het liewers baie ver weg van die reuse luislang gebly. Ons het ons piekniek-middagete by ‘n klein winkelsentrum geniet, waarna daar tyd was om iets lekkers te koop of dalk ‘n geskenk vir iemand by die huis te soek. Later die namiddag het ons na ‘n ongelooflike vertoning deur die Drakensberg Seunskoor geluister, voordat ons weer teruggekeer het na Drakensville. Danie het die landsdiensmaats oor die geskiedenis van die Drakensberge vertel, voordat ‘n laaste swem in die onderdak warm swembad geneem is.
Die tyd om huis toe te vertrek het veels te vinnig aangebreek. Donderdagoggend, voor ontbyt, het ons die bus alreeds gepak, sodat ons direk na ete kon ry om betyds op Lüneburg te wees vir die sluit van die skool vir die lang naweek. Ons is dankbaar dat ons hierdie geleentheid gehad het om so veel in die buitelugklaskamer te kon leer en ervaar en dat ons ten alle tye veilig bewaar is.
Landsdiens Toer 2019 – Babanango
Erika Niebuhr