Verona Wortmann
Omdat ons die eerste kwartaal met ‘n konsert afgesluit het, en nie ekstra tyd vir Netbalvaardighede gehad het nie, het die 2023 netbalseisoen vroeg in die 2de kwartaal met volle vaart afgeskop. Ons het elke oefensessie ten volle benut om seker te maak die spelers is gereed vir die seisoen se kompetisies wat voorlê.
Ons het die tweede naweek al aan ‘n toernooi te Piet Retief deelgeneem. Hierdie toernoei was ‘n gulde geleentheid om spelers op posisies te plaas en as ‘n span saamtewerk. Die spelers het hulle goed van hul taak gekwyt en na elke wedstryd kon ons sien hoe elkeen van die spelers ontwikkel en die geleentheid saam geniet. Behalwe vir die toernooi in Piet Retief het ons ook aan toernooie te Lucas Meyer, Wittenberg en Amsterdam deelgeneem.
Alhoewel ons een van die kleinste skole in die gebied is, het ons o/8 en o/9-spanne gewys dat ons ‘n hoë standaard handhaaf. Die klein graad eentjies moes inspring om die o/8-span aan te vul en het hulle bes vir die skool gedoen. Ons is baie trots op elkeen van hulle. Hulle was gretig om te leer en het ons oefensessies baie opwindend gemaak. Al ons spelers het ontsettend goed teen die ander skole gespeel. Ons o/8-spannetjie (met o/7’s) het ons verras met hulle goeie resultate en dit was ‘n plesier om die o/9-span se wedstryde te vervolg. Hulle het ontsettend goed gespeel en amper al hulle wedstryde gewen.
Met ywerige spelers en kundige afrigters kon die seisoen nie anders as om uiters suksesvol te wees nie. Dankie aan Anje Nigrini, ons afrigter, en Juffrou Grobler, wat vir ons geblaas het. ‘n Groot dankie aan elke speler en elke ouer wat getrou die seisoen met entoesiasme aangepak en ondersteun het. Daarsonder sou die seisoen nie so geslaagd gewees het nie. Ons sien uit na die volgende seisoen.