Dis wintervakansie. Die skole is gesluit, en die kinders is by die huis. Baie ouers, hoe lief hulle ook al hulle bloedjies het, sit met hulle hande in die hare.
Hoe hou jy jou kinders konstruktief besig sodat hulle nie heeldag en aldag voor die TV lê of hulle tyd eksklusief aan tegnologiese toestelle wy en heeldag (en -nag) aanlyn is nie? Hoe motiveer jy hulle om vars lug en oefening te kry en prettige aktiwiteite aan te pak wat hulle aandag so bietjie van die skerms aftrek?
Ontspan. Dit is nie nodig om elke liewe oomblik van jou kinders se dag tot in die fynste besonderhede te beplan nie. Soms is dit goed vir kinders om vrye tyd op hande te hê en vir ’n slag verveeld te wees. Sodoende kan hulle leer om hulle verbeelding in te span en innoverend te wees.
In ’n baie interessante artikel in Juig! (Desember 2021) getiteld “Die stille tragedie wat vandag se kinders beïnvloed” skryf Victoria Prooday dat verveling juis kreatiwiteit aanwakker.
Sy raai ouers aan om a) nie verantwoordelik te voel om hulle kinders se vermaaklikheidspan te wees nie, b) nie tegnologie as ’n oplossing vir verveling te sien nie, c) om liefs tegnologie as vermaak te vermy en kinders te leer om “verveeldheid” te hanteer, en d) ’n “verveeldheidnoodhulpkissie” te maak propvol idees vir tye wanneer kinders die dag verveeld voel en op soek is na iets om te doen.