Soos ons almal weet word KRIEKET in Lüneburg met HOOFLETTERS gespel. Die basis vir goeie krieketspelers word in Lüneburg al op ‘n jong ouderdom gelê.
Alle graad 1 tot 3-leerders het in hierdie seisoen aan die Mini-Krieket deelgeneem. Mini-Krieket lê ‘n goeie fondasie vir die toekoms. Dit laat alle leerders, ongeag hulle vaardighede, ‘n gelyke geleentheid toe om te ontwikkel. Dit verskaf fisiese oefening in ‘n vorm waarin hulle dit kan geniet en ontwikkel die kind se selfvertroue, spangees en veral sportmanskap.
Die meeste kinders het aan die begin van die kwartaal met die boulwerk gesukkel. Die oefensessies het gou vrugte afgewerp en die ongemaklike “flamink-staan-op-een-been”-metode het gou-gou plek gemaak vir ‘n meer gemaklike boul beweging. Die kinders het vinnig die nuwe vaardighede bemeester en het hierdie vaardighede met trots by elke wedstyd uitgeoefen.
Hulle kolf en veldwerk was ‘n plesier om te aanskou en daar het deurgans goeie sportmanskap geheers . ‘n Groot dank is aan die ouers verskuldig wat ons so fantasties bygestaan het. Ons en die kinders het julle teenwoordigheid by die wedstryde baie waardeer.