Schule Lüneburg Skool Cricket League

KRIEKETLIGA

vs. Nardini (Tuis – Dinsdag, 2 Augustus)
Ons seuns kolf eerste en teken altesaam 187 lopies aan in hul 20 boulbeurte en verloor slegs 1 paaltjie. Baie geluk aan elke speler wat hul hart uitgespeel het, Alexander het 95 lopies, Phillip 45 lopies en Eckard 29 lopies en al drie was nie uit nie. ‘n Klomp Gr. 4’s maak ook hul verskyning vir die eerste keer op die krieketveld en almal speel mooi en toegewyd, die Gr. 4 spelers het ook menige paaltjies geneem tydens hul boulbeurte. Ongelooflike mooi krieket is deur ons o/11’s gespeel teen Nardini waar ons met 114 lopies wen.

vs. Lucas Meyer (Vryheid – Dinsdag, 9 Augustus)
Op Dinsdag, 9 Augustus ry ons spelers na Vryheid om teen LMS se o/11B span te speel. Ons spelers speel ongelooflik mooi en boul LMS uit vir 29 lopies. Ons wen die wedstryd met 31 lopies, niks uit nie.

vs. Michaelis (Tuis – Dinsdag, 16 Augustus)
Ons kolf eerste en teken 108 lopies aan vir 8 paaltjies in 20 boulbeurte. Michaelis kolf tweede en maak 110 lopies vir geen paaltjies. Hul wen dus die wedstryd met 8 paaltjies.

vs. Nardini (Vryheid – Maandag, 21 Augustus)
Ons span speel hulle tweede wedstryd vir die liga teen Nardini. Ons verloor geen paaltjies nie en teken 162 lopies in 20 boulbeurte aan. Nardini kom aan die kolfbeurt en kon ons spelers se kolf vermoë net nie klop nie, hul teken 121 lopies in 20 boulbeurte aan. Ons boulers slaag daarin om 4 kolwers uit te boul en een kolwer word uitgevang. Ons wen die wedstryd met 41 lopies.

vs. Lucas Meyer (Tuis – Dinsdag, 29 Augustus)
Die seuns het hul uitstekend van hul taak gekwyt en hul wedstryd teen LMS baie goed gewen. Lüneburg het eerste gekolf en 127 lopies aangeteken in 20 boulbeurte. Ons boulers wys wat in hulle steek en haal LMS vir 108 lopies uit. Esami Dlamini neem vier paaltjies en Phillip Thiele drie. Eckard Böhmer het baie goed gekolf en 86 lopies aangeteken. Alexander Niebuhr kolf net so goed en teken 71 lopies aan. Lüneburg wen dus met 19 lopies.

vs Michaelis (Vryheid – Dinsdag, 6 September)
Lüneburg kolf eerste en teken 63 lopies aan, almal uit. Michaelis kolf tweede en vat ons punt verby met slegs een paaltjie wat geval het. Ons verloor dus die wedstryd, maar ons spelers hou hul koppe hoog en weet hul het hul bes gedoen.

Dit bring ons aan die einde van ons liga waar ons teen LMS, Nardini en Michaelis kompeteer het. Ons het slegs teen Michaelis verloor wat baie goed is vir ons jong span. Michaelis vat die liga aangesien hul geen wedstryd verloor het tydens die liga nie. Ons span het wel ‘n uitstekende prestasie bereik tydens die liga en dit was dat ons die meeste lopies gesamentlik tydens die liga gemaak het. Ons opregte dank en waardering aan al die ondersteuning en hulp van die hele gemeenskap, dit is te danke aan julle lojaliteit teenoor die skool en leerders dat ons nuwe hoogtes bereik.

Previous

Next