Die eerste wedstryd het op die 25ste April te Lucas Meyer plaasgevind en slegs een van die spanne het aan die tackle rugby byeenkoms deelgeneem.
Die leerlinge het gesukkel, veral omdat die teenstanders soos reuse teenoor hulle gelyk het. Die span wat deelgeneem het, het hulle eerste wedstryd verloor , maar tydens die tweede wedstryd het hulle uitgehaal en gewys wat in hulle steek en het die wedstryd gewen.
Die 4de Mei by die Wittenberg boeredag het ons o/7‘s en o/8’s teen ‘n handjie vol ander skole te staan gekom, wat ook tagrugby speel. Daar was 2 gemengde spanne van o/7 en o/8 leerlinge. Weereens was die leerlinge baie senuweeagtig en het beide die spanne aanvanklik gesukkel. Die laaste 2 wedstryde van beide spanne was weer asof daar vuur onder die leerlinge gemaak is en aan die einde van die dag het ons 4 van die 8 wedstryde gewen.
Te Amersfoort op die 11de Mei het die o/7 en o/8-span en die o/8 en o/9-span onderskeidelik deelgeneem. Die o/8 en o/9-span het baie puik gevaar en het gewys dat dit nie oor die grote of spoed van ‘n individu gaan nie, maar oor hoe goed die span saam met mekaar werk. Die o/7 en o/8-span was weereens baie senuweeagtig en het hulle eerste paar wedstryde naelskraap verloor, maar die laaste wedstryd was alle trane verdamp en het die leerlinge gelyk asof hulle al jare lank speel.
Op die 18de Mei te Amsterdam het die o/7 en o/8-span sowel as die o/8 en o/9-span deelgeneem. Terwyl die mis nog dig voor al die leerlinge se oë gelê het, het hulle begin opwarm. Beide spanne het al 3 hulle wedstryde gewen, al was daar ‘n wedstryd of twee wat gelyk het of hulle swaar trek. Dit was ‘n opwindende dag vir ouers, personeel en veral vir die leerders.
Tydens die laaste byeenkoms te Lüneburg die 23ste Mei het weereens beide die o/7 en o/8-span en die o/8 en o/9-span deelgeneem. Daar was baie hartseer in meeste van die leerders, omdat die seisoen tot ‘n einde gekom het. Die o/7 en o/8-span het een wedstryd verloor, maar het besef dat hulle wel die seisoen op ‘n goeie noot wil afsluit en het die laaste wedstryd gewen. Die o/8 en o/9-span het ‘n totaal van 5 wedstryde gespeel en het al 5 gewen. Mnr Nigrini het al die leerders van die o/8 en o/9-span na die afloop van hulle wedstryde met ‘n yskoue koeldrank beloon.
Die seisoen het puik uitgedraai al het dit ‘n paar keer gelyk asof ons die plot heeltemal verloor het. Vanaf Mnr Bekker en Mnr Nigrini se kant, baie geluk aan al die leerlinge en wel gedaan met hulle deursettingsvermoë. Dit was ‘n baie lekker seisoen!