Schule Lüneburg Skool - Netbalseisoen

Netbalseisoen 2018. Hierdie kwartaal het ons afgeskop, of eerder afgegooi, met ‘n netbalkliniek, waar die meisies nuwe tegnieke en netbalvaardighede geleer het. Hulle het geleer hoe om hulle “netbalhuis” te bou.

Hierdie netbalhuis het ‘n goeie fondasie wat uit die basiese vang– en gooi-tegnieke bestaan. Daarby het hulle ook verdediging, goeie en stabiele liggaamsposisie, voetwerk, vinnige bewegings en doelvaardighede geleer.

Hierdie huis het al hoe sterker en meer voltooid geword tydens die verloop van die kwartaal en die meisies het hierdie vaardighede ook toegepas tydens die wedstryde. Ons het deelgeneem aan die Wintersportdae te Morgenzon en Wittenberg, waar ons teen Morgenzon, Wittenberg, Amersfoort en Maranatha gespeel het. Ons meisies het goed gevorder en al hoe beter geword, weens die ervaring wat hulle tydens hierdie wedstryde opgedoen het. Die graad 1 tot 3-meisies het ook teen Lucas Meyer gespeel, waar hulle baie goed gespeel en die meeste wedstryde gewen het.

Ten slotte het ons weereens teen Wittenberg te staan gekom en dit was voorwaar ‘n interessante spel, waar die meisies gewys het wat in hulle sokkies steek. Hulle het vir elke bal geveg en tot die einde hulle harte uitgespeel en dit was definitief die moeite werd gewees, want ons het hulle geklop. Hopelik kan ons volgende jaar op hierdie wonderlike noot begin.

Maike Klingenberg