Landsdienstentoonstelling. Op Vrydag, 20 Oktober, het ons jaarlikse landsdienstentoonstelling met die tema “Ons erfenis“ plaasgevind. Die oggend het met ‘n oordenking begin wat deur die Bybelklub-leidster, Danielle Peters, gehou is. Sy het ons vertel van die erfenis wat God aan ons oorgelaat het en dat dit ons plig is om te sorg dat hierdie erfenis bewaar word.
Omdat die Lüneburg Gemeente, sowel as die skool, binne die volgende 3 jaar hulle 150ste bestaansjaar vier, het ons ná die oordenking na Fort Clery beweeg, waar Mnr. Kurt Gevers ons kortliks oor die geskiedenis agter Fort Clery vertel het en ook ‘n topografiese plaat van hierdie monument onthul het. ‘n Hartlike dank aan die Lüneburg Gemeente wat die onkostes van hierdie plaat gedra het.
Vanaf Fort Clery het ons afbeweeg na die veld agter die Zwergen Kindergarten geboue, om die beoordeling van die perde, sowel as die ruiters te besigtig. Daarna was daar tyd om die projekte in die saal te besigtig.
Gedurende die teepouse het Mnr. Erich Niebuhr met die blaasorkes ons met wonderlike blaasmusiek vermaak – hierdie musiek maak ‘n groot deel van ons erfenis uit. Daar was heerlike peuselhappies om te geniet, terwyl die gaste gesels het. ‘n Hartlike dank aan die verversingskomitee o.l.v. Mev. Ronelie Prigge, wat ons bedien het, en al die Mammas wat iets lekkers gebring het.
Na die pouse het die formele landsdiensvergadering begin. Die landsdienskomiteelede het elkeen ‘n spreekbeurt gekry, waarin hulle ons meer vertel het oor die aktiwiteite in die onderskeie lansdiensklubs. Elkeen van die komiteelede het ‘n sertifikaat en ‘n balkie vanaf die Nasionale Landsdiensbeweging ontvang, wat deur Mnr. Chris Randlehoff aan hulle oorhandig het.
Die leerders met die meeste punte vir hulle projekte in elke graad, het ook ‘n sertifikaat ontvang wat Mnr. Bradley Gibbons van die Endangered Wildlife Trust aan hulle oorhandig het – baie geluk aan Daniel Schnackenberg (gr. 5); Bianca Klingenberg (gr. 6) en Claudia Meyer (gr. 7) vir hulle prestasie.
Ons gasspreker, Mnr Kurt Gevers, het ons dan oor Lüneburg se erfenis vertel – van waar ons vandaan kom tot hoe ons voorvaders hier gevestig is. Dit was ‘n ongelooflike storie om te hoor en almal wat teenwoordig was het dit geniet om van hierdie ryk erfenis te hoor – hopenlik gaan hierdie stories nie verlore nie en mag nog baie generasies hulle hoor.
Ons is baie dankbaar vir ‘n heerlike voormiddag – vir elkeen wat teenwoordig was en vir elkeen wat op een of ander manier gehelp het met die voorbereidings, beoordeling en opruim, baie dankie. Julle hulp word opreg waardeer.